Sefanja 2
[1]
[2]
[3]
2:1 Kom tot julleself, ja, kom tot inkeer, o nasie wat nie skaam word nie!
2:2 Voordat die besluit baar--soos kaf gaan die dag verby--voordat daar oor julle kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE.
2:3 Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid--miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.
2:4 Want Gasa sal verlate wees en Askelon tot verwoesting; Asdod sal op die helder middag verdryf word, en Ekron sal ontwortel word.
2:5 Wee die inwoners van die kusstreek, die nasie van die Kretiërs! Die woord van die HERE is teen julle, Kanaän, land van die Filistyne--Ek verdelg jou, sodat daar niemand meer woon nie.
2:6 En die kusstreek sal weiplekke met putte wees vir herders en krale vir kleinvee.
2:7 En dit sal wees 'n deel vir die oorblyfsel van die huis van Juda: hulle sal daarop wei; hulle sal saans in die huise van Askelon gaan lê, want die HERE hulle God sal op hulle ag gee en hulle lot verander.
2:8 Ek het gehoor die smaadtaal van Moab en die beskimpinge van die kinders van Ammon, waarmee hulle my volk gesmaad het, en hoe hulle hul groot gehou het teen sy grondgebied.
2:9 Daarom, so waar as Ek leef, spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Moab sal word soos Sodom en die kinders van Ammon soos Gomorra--'n veld van brandnekels en soutpanne en 'n verwoesting vir ewig; die oorblyfsel van my volk sal hulle berowe, en die res van my nasie sal hulle beërwe.
2:10 Dit oorkom hulle vir hul trotsheid, want hulle het geskimp op en hulle groot gehou teen die volk van die HERE van die leërskare.
2:11 Vreeslik sal die HERE teen hulle wees, want Hy laat al die gode van die aarde wegkwyn; sodat hulle Hom kan aanbid elkeen uit sy woonplek, al die kuslande van die nasies.
2:12 Ook julle, o Kusiete, deurboordes van my swaard is hulle.
2:13 Dan sal Hy sy hand uitstrek teen die noorde, en Hy sal Assur vernietig en Ninevé tot 'n verwoesting maak, dor soos die woestyn.
2:14 En binne-in die stad sal troppe vee lê en allerhande gediertes by troppe, die pelikaan sowel as die krimpvarkie op sy kapitele vernag; hoor! daar word gesing in die venster; verwoesting sit op die drumpel, want hulle het die sederwerk afgeruk.
2:15 Dit is die uitgelate stad wat so veilig gewoon het, wat in sy hart gesê het: Dit is ek, en niemand anders nie! Hoe het dit 'n verwoesting geword, 'n lêplek vir wilde diere! Almal wat daar verbytrek, spot, skud met die hand.
|