Genesis 1
1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed,
en die Gees van God het gesweef op die waters.
1:3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
1:4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen
die lig en die duisternis;
1:5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem.
En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.
1:6 En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en
laat dit skeiding maak tussen waters en waters.
1:7 God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel
is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so.
1:8 En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was
môre, die tweede dag.
1:9 En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek
versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so.
1:10 En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die
waters het Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was.
1:11 En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante
wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle
saad is, op die aarde. En dit was so.
1:12 Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens
hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle
soorte. Toe sien God dat dit goed was.
1:13 En dit was aand en dit was môre, die derde dag.
1:14 En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die
hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien
as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.
1:15 Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om
lig te gee op die aarde. En dit was so.
1:16 God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers
oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.
1:17 En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te
gee op die aarde
1:18 en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak
tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was.
1:19 En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.
1:20 En God het gesê: Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende
wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van
die hemel.
1:21 En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat
beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde
voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
1:22 En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul
die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder.
1:23 En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.
1:24 En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens
hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens
hulle soorte. En dit was so.
1:25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte
en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip,
volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis,
en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel
en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde
kruip.
1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het
Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar
en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van
die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde
kruip.
1:29 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad
gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is,
wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.
1:30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel
en al die kruipende diere op die aarde, waarin 'n lewende siel is, gee
Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.
1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. En dit
was aand en dit was môre, die sesde dag.
|